Wednesday, October 3, 2007

Kaunda, verbeel jou!

My hart is stukkend vanoggend....
Gisteraand op pad huis toe van vriende af ry ek verby 'n outjie op die hoofpad besig om te duimry, as 'n reel tel ek nie ouens langs die pad op nie en ek ry maar aan.
Iets pla my al die pad huis toe oor die outjie verby wie ek gery het en so halfpad draai ek om en ry terug.
Die ou lyk nie ouer as 14 nie en loop 10 uur in die aand van waar hy karre opgepas het om vir sy ma en sussie kos te vat....
Wat ek gedoen het is nie ter sprake nie, wat wel ter sprake is, is dat mense swaarkry en ander mense doen niks daaraan nie...
Wees goed vir ander mense, ek wil niks meer se nie, maar mense, ek kan nie sulke goed vat nie, ek gaan niks verder se nie, miskien as jy hierdie lees maak dit 'n gevoel in jou wakker en miskien net miskien spoor dit jou vandag aan om iets goeds vir iemand te doen.....

Die Nasionale Vervolgingsgesag het bevestig dat die Skerpioene ondersoek ingestel het na nasionale polisiekommissaris Jackie Selebi, maar sê geen besluit is geneem oor sy vervolging nie. Die NVG het ‘n verklaring uitgereik om wat hy noem die aansienlike verwarring uit te klaar oor die status van ‘n ondersoek na Selebi. Die liggaam sê ingevolge die wet op die Nasionale Vervolgingsgesag mag die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings ‘n besluit hersien om te vervolg of nie te vervolg nie. Die waarnemende hoof van die NVG, Mokotedi Mpshe, het besluit om die hersiening te doen, maar daar is geen aanduiding wanneer dit afgehandel sal wees nie.

Die Suidelike distriksmunisipaliteit in Noordwes gaan vernoem word na die voormalige Zambiese president, Kenneth Kaunda. Burgemeester Boitumelo Moloi sê Kaunda se naam het die meeste stemme ontvang tydens ‘n openbare deelnameproses. Die Demokratiese Alliansie het vroeër gesê Kaunda het niks met Suid-Afrika te doen nie, en die Vryheidsfront-Plus het verkies om die naam Suidelike Distrik te behou. Die munisipaliteit bestaan uit Potchefstroom, Klerksdorp, Wolmaransstad en Ventersdorp.

AHier is die Mechanic Bar:

Die Mechanic Bar is in fie pylvak vir die wereldbeker en ou Barend moes 'n nuwe assistent aanstel om te kom help want hy kon nie meer cope nie.
Sy is 'n interessante wese, seker maar omdat sy 'n vroumens is, en die meeste van die ouens hier verstaan nie regtig wat sy se nie, die man in die hoek noem haar sommer Bettie, hy wou haar eers Bettie Big Boobs noem maar hy was bang sy vrou hoor dit.

Haar boobs is in alle geval nie so groot nie, maar Bettie Big Boobs klink net lekker op die tong, amper soos 'n Campbells liedjie, die man in die hoek wou dit vir Ruds noem want Ruds is die musiekman, maar hy het daarteen besluit aangesien Ruds nog nie heeltemal herstel het van sy liefdesteleurstelling nie en die Man in die hoek is nie seker of Bettie se boobs so lekker gaan klink in 'n hartseer ode aan die liefde nie.
"Dink julle die Bokke kan wen?" vra ou Barend.
"Solank hulle nie die affirmative Bokke kies nie" se Trev.
"Ag ons almal weet mos hulle moet hulle kies, Habana is in elkgeval die beste vleuel in die wereld" se Gordie.
"Nee man hy praat van die rugby gestremde Bokke, die ouens wat in die span is omdat hulle goeie toeriste is en mooi lyk in tydskrifte, maar nie rerig kan speel nie soos Pretorius en Olivier.|
Ja se Divan, "dis so goed Brad Pitt speel rugby".
"Is dit" se Nick the Greek, "speel Brad Pitt rugby?"
"Nee man Griekie" se Gordie, "ons bedoel net hy lyk soos Brad Pitt"

Nick het soos almal weet te veel geld en het dit selfs oorweeg om die eindstryd te gaan kyk as die Bokke dit maak maar iemand het vir hom gese hy sal nie van die Franse girls hou nie, hulle skeer glo hulle armhare!

Nog 'n nuweling in die Machanic Bar is Jack die Ingelsman met die mooi sussie, die ouens verdra maar vir Jack omdat sy sussie so deksels mooi is.... en hy koop darem so nou en dan 'n dop en hy bring haar nou en dan saam.
Jack is 'n snaakse karakter, hy lyk altyd of hy besig is om 'n dieselenjin reg te maak.
"I think the Springboks will win the cup!" verklaar hy.

Die man in die hoek kyk hom aan of hy van 'n ander planeet of kom..."Barend, gooi vir die Ingelsman bietjie tipp-ex, en gee hom 'n lewerpilletjie, ek sal betaal" Die man in die hoek het die maand al R332 op lewerpille spandeer, hy's al te bang om te piepie....

Trev en Gordie is in 'n ernstige gesprek gewikkel oor presies hoe goed, of hoe sleg Petoors nou eintlik is.
Hulle kom ooreen dat Pretorius partykeer goed is.........

Sagmoedige Neelsie het saggies die kroeg binnegeluip en die ou lyk of iemand hom baie bly gemaak het vandag.
"Wassup Neels" vra Trev.
"Moet vir niemand se nie" fluister Neels, "maar ek het die Lotto gewen!"
"Maar daar is nie eers nou 'n Lotto nie" snork Trev verontwaardig.
"Op die Internet man, ek het vandag 'n e-pos gekry, hulle het my naam getrek uit miljoene name, ek moet net die R40 000 se Administrasie gelde oorbetaal dan betaal hulle my $2m in my rekening."
Trev lag en hou sy maag vas, "Dis 'n scam Neelsie, hulle stuur elke dag miljoene sulke e-posse en elke nou en dan vang hulle 'n sucker soos jy!"
"Dit kan nie wees nie man ek het klaar vir my 'n nuwe bakkie gekoop en 'n huis en 'n besigheid en 'n dokter se vrou opgechat en belowe ek vat haar oorsee...."
"En wat het die dokter se vrou gese" vra Trev.
"Sy het ja gese, glimlag Neelsie, droomverlore.
"Wys jou nou net" se Trev, "Wat" vra Neelsie.
"Vrouens en welstand, as hulle dink jy is ryk is jy in die voorste gestoeltes" se Trev.
"Hoe so" vra Neels.
"As jy ryk is het jy Sjampanje, Kaviaar en 'n mooi vrou.... as jy soos ons is sit jy met dooswyn, stokvis en jou ma opgeskeep" se Trev!

3 comments:

Blou Bul said...

Goei more

Verbeel jou Kenneth Kaunda.Em eintlik is daar seker nie veel wat ons kan doen daaromtrent nie, die ANC vee inelk geval hul gatte af aan hofbeslissings.

Ja Wimpie dis hoe dit gedoen word `n mens blaker nie al jou samaritanisme aan almal uit nie, want dan is jou loon daarmee heen.`n Mens voel hoe jou hart smelt vir sulke mense.Ai!

Die mecanicbar wens ek was daar om vir Bettie Boobs huis toe te neem, ek is hoeka op die "waterkar" tot so middel November, my vrou was mos vir `n histerektomie.Dis maar moeilik, maar ek sal maar seker selfbeheersing moet toepas.........

Dame met 'n wil! said...

Wimpie die mense wat my as mens ken, weet diere en kinders lè my baie na aan die hart, die arme arme kind, kan sy ma dan nie 'n werkie iewers kry nie?? Mense wat regtig swaar kry, my hart bloei vir hulle, vir in die nuwe SA.

My hart is sommer ook nou stukkend, daai tyd van die aand behoort 'n kind in sy bed veilig en warm te slaap, met 'n vol magie, skoon gebad!!

antjiesomers said...

More Wimpers
Ek blog nie meer nie, maar lees so nou en dan hierdie een spesifieke blog :)
Vandag moet ek iets se, en dis nie om weer in die ding van blogging te kom nie, ek het nie eens 'n halwe lus daarvoor nie! (Dankie tog)

Dit vat baie lank vir my om hierdie woorde te uiter teenoor enigeen, but here goes.... Ek het vanmore respek vir jou gekry. Nie omdat jy iemand gehelp het nie, maar omdat jy dit gedoen het wat ek aan moedersknie geleer is. Doen jou ding en hou jou bek. Jou linkerhand moet nie weet waarmee jou regter besig is nie.

Daar is nie vir my 'n erger ding as wanneer iemand uitbasuin hoe hy dan nou hierdie arme versukkelde wese gehelp het en vir daardie een kos aangedra het nie. Hoekom sal mens dit wil doen? Net een rede - om jouself te prys en die komplimente van ander aan te hoor. Dit, wat my betref, is 'n saak tussen jou, daardie persoon en jou siel. Om dit op te blaas om jouself te verheerlik is nie net kinderagtig nie, maar ook soos die brein se neem jy 'n seen van jouself weg....

Dankie dat ek op hierdie dag nog een mens in my brein kan file as 'n 'gerespekteerde'.