Friday, January 16, 2009

Ek raak bang en amper ontvoer...

Bisar! Dis die gedagte wat by my opkom terwyl ek sit en koffie drink, en ek drink nie eers koffie nie!

Die stem aan die ander kant van die telefoon het my die adres gegee waar ek hom moet kry met baie spesifieke opdragte.... "moenie laat wees nie!" "Kom alleen en geen kameras nie".

Ek het verlede jaar ook met die stem gepraat, hulle is 'n band, bekende sangers in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf, tussen hulle ses het hulle al verskeie goue CD's gehad, nou is hulle lus vir iets anders doen...

Ek begin giggel toe die ou in die masker aangestap kom, dit lyk soos 'n toneel uit 'n scary rolprent, die ou wat voor my staan lyk soos Hannibal Lechter.

"Ken ek jou?" wil ek weet. "Nee maar ons ken jou". Nou verstaan ek hoekom ek hom moes ontmoed by hierdie afgelee koffiewinkel. Die ander twee mense by die winkel kyk ons maar snaaks aan.

Die idee van die vergadering is om 'n geheimhoudingsklousule te teken, ek mag onder geen omstandighede met niemand hulle identiteit bespreek nie, ek sal as agent, segspersoon, skakel met die media, publiek en aanhangers optree.

Dit sal ook my werk wees om te sorg dat hulle identiteit onder geen omstandighede bekend gemaak word nie, as ek iets se sal ek onmiddelik gedagvaar word vir verlies aan inkomste en toekomstige inkomste.

Die ouens stel nie net in die Suid-Afrikaanse mark belang nie, hulle wil internasionaal ook gaan. Hulle wil nie baie optree nie, hoe meer optredes hoe beter die kans dat hul identiteit sal uitlek, optredes gaan duur en eksklusief wees. Dit sal my taak wees om te verseker dat hulle identiteit beskerm bly by konserte ens. ek moet sorg dat NIEMAND anders naby kleedkamers toegelaat word nie, dis my taak om klankmanne te kry wat sonder hulle die klank kan opstel en GEEN kontak met die band het nie.

Alle onderhoude met die pers sal via my gehou word. Hierdie ouens het groot planne, die ou met wie ek vergadering gehad het ken ek van geen kant af nie, dis duidelik dat hy net gestuur is om die geheimhoudingskontrak deur my geteken te kry.

"Ken ek hierdie ouens" wil ek weet? "Jy ken hulle al ses, en die publiek ken hulle ook al ses, almal wat Suid-Afrikaanse musiek volg sal hulle ken, hulle is baie bekende kunstenaars" se die stem. "En hoe pas jy in die storie" vra ek.
"Ek is die prokureur" se die stem onder die masker uit.

Ek teken die geheimhoudingskontrak soos iemand wat in die verwagting leef dat al die geheime van die wereld aan hom geopenbaar gaan word!

"Great, dankie ons sal jou kontak binne die volgende week dan sal alles aan jou vertel word. Moenie saam my uitstap nie, moenie probeer kyk na my kar nie, as jy dit doen kan ons jou nie vertrou nie".

Die ou tel die kontrak op en stap by die koffiewinkeltjie uit sonder 'n woord verder, ek sit nog so vyf minute, betaal my eie rekening en groet die verdwaasde kelner met: "toema ek was net so bang soos jy!".

Hopelik gaan ek ook volgende week bietjie meer weet as wat jy of ek tans weet. Die foto wat jy hier op my blog sien is die naaste wat ek kon kom aan die masker wat die ou aangehad het, ek het maskers gegoogle, nie heeltemal so nie maar amper so iets.

Ek wag in spanning vir volgende week, die demo wat ek op die "prokureur" se foon gehoor het klink, wel ek mag nie se nie.... volgens die kontrak... maar dit gaan die land stormloop, ek ek kan nogal sien dat dit dalk net die wereld kan aanvat!

Ek wag in spanning en ek gaan 'n besige naweek he, en ek gaan hard dink die naweek!

Wimpie

No comments: